Ek vind dit baie moeilik om oor hierdie
wandelroete te skryf. My oë vul met water, ek raak te emosioneel en
moet elke keer opstaan en wegloop van my rekenaar.
Respek |
In die woud |
Kringe in 'n bos. Saul Barnard. Oupoot.
Jane. Die bloubokkie se gal wat nie in sy kop sit nie. Dalene Matthee.
My voorgeskrewe boek op skool. 'n
Skrywer wat ek bykans weekliks erens in Mosselbaai tydens my
grootwordjare raakgeloop het. 'n Skrywer met siel. En wat haar siel
bloot kon lê op papier.
In NP van Wyk se woorde: “My naakte
siel wil sonder skroom in alle eenvoud tot jou gaan.”
Sy kon die woud met woorde teken. Ek
probeer dit met 'n kamera doen. Ek slaag nie.
My keel raak alweer seer soos ek swaar
sluk. Kringe in 'n bos is seker die mooiste verhaal oor 'n besondere woud met
merkwaardige natuurreuse wat deur onkunde en gier vernietig is.
At the river crossing turn left to view this hidden gem |
Octopus stinkhorn |
Kringe in 'n bos wandelroete is mooier
as mooi. Dit is dig groen. Orals is fungi, die skoonmakers van die
woud wat in alle kleure en groottes opduik. Hulle breek
plantmateriaal af en sit alles terug in die grond en begin dus die
sirkel van lewe van vooraf. Navorsing dui nou dat hulle 'n rol kan
speel in die genesing van kanker. Die genesing van die siel wat mens
hier kry, is vir my net so belangrik.
Stap hierdie roete. Dit is net 9km.
Vat jou tyd by Krisjan se Nek. Tannie Dalene se as is hier gestrooi. Sy is
nou deel van die woud. Deel van die sirkel.
Jubilee creek |
Pak ekstra kos in en gaan hou piekniek
by Jubilee creek. Neem die bos in. Sit en luister. Die bos het
baie stories.
No comments:
Post a Comment